Alexander die Grote | |
---|---|
Koning van Masedonië, Hegemon van die Griekse Liga, Shahanshah van Persië, Farao van Egipte en Heerser van Asië | |
Alexander die Grote op sy perd Bucephalus (mosaïek van die Slag by Issos 333 v.C.)
| |
Tydperk | 336 v.C. – 323 v.C. |
Grieks | Μέγας Ἀλέξανδρος (Mégas Aléxandros, Grote Alexander) Ἀλέξανδρος ὁ Μέγας (Aléxandros ho Mégas, Alexander die Grote) |
Huis | Argeïese Dinastie |
Voorganger | Philippos II |
Opvolger | Alexander IV Philippos III |
Gebore | 20 of 21 Julie 356 v.C.; Pella, Masedonië |
Oorlede | 10 of 11 Junie 323 v.C.; Babilon |
Vroue | Roxana van Bactrië Stateira II van Persië Parysatis II van Persië |
Kinders | Alexander IV |
Vader | Philippos II |
Moeder | Olymbias van Epirus |
Alexander die Grote (Grieks: Mέγας Αλέξανδρος, 20 of 21 Junie 356 v.C. – 10 of 13 Junie 323 v.C.) was die koning van Masedonië. Hy het op 'n jong ouderdom beheer van Griekeland, Egipte en die meeste lande oos van die Middellandse See tot so ver as Indië oorgeneem. Hy het die Griekse kultuur na bykans die hele bekende wêreld uitgebrei en talle stede gestig, waaronder Alexandrië in Egipte. Hy word as een van die grootste militêre leiers in die geskiedenis beskou.
Alexander is in 356 v.C. in Pella, Masedonië, gebore. Hy is tot op ouderdom 16 deur die beroemde filosoof, Aristoteles, onderrig. Hy het in 336 v.C. na die moord op sy vader Philippos II van Masedonië aan bewind gekom, en het dit geluk om op sy vader se grondslag voort te bou. Hy het die strydende Griekse stadstate verenig en 'n stydmag op die been gebring wat die Persiese Ryk (Persië) in nege jaar verower het. Hierdie gebied het Klein-Asië, Antieke Egipte en die hele Nabye Ooste tot by die grense van Indië omvat, waarna hy die verowering van Arabië beplan het.
Skynbaar moeiteloos kon Alexander hierdie reeks welslae binne die bestek van 'n dekade beklink, met 'n strydmag bestaande uit net 30 000 tot 50 000 manskappe. Vir sy gebrek aan getalsterkte het sy daadkrag, vindingryke taktieke en beweeglikheid ingestaan. Opmerklik is die feit dat hy geen veldslag verloor het nie, en dikwels in die voorste gevegslinie teenwoordig was, waar hy 'n inspirerende uitwerking op moraal moes gehad het.[1] Vandag nog is daar 'n betowering in die naam van hierdie groot veldheer wat meer as tweeduisend jaar gelede in Babilon op die ouderdom van 32 jaar aan malaria of tifus oorlede is, en regoor Eurasië word hy steeds as 'n groot veroweraar onthou.[2]
Naas Djengis Khan was Alexander die grootste veroweraar van grondgebied. Sy visie van 'n Grieks-Persiese wêreldryk kon hy egter nie verwesenlik nie, want ten spyte van sy skitterende insigte in oorlogvoering, het hy nie geweet hoe om die verowerde gebied te regeer nie. Na sy vroegtydige dood het die ryk ook dadelik verbrokkel, en sy generaals het vir hulself plaaslike ryke uitgekerf.